Donald Trump

Donald John Trump (gebore 14 Junie 1946 in Queens, New York Stad) is ’n Amerikaanse sakemagnaat wat as die 45ste President van die Verenigde State van Amerika gedien het. Hy was die Republikeinse Party se kandidaat en het sy Demokratiese teenstander Hillary Clinton op 8 November 2016 in die Amerikaanse presidentsverkiesing verslaan, hoewel hy minder stemme as sy op hom verenig het. Hy is op 20 Januarie 2017 as die 45ste president beëdig. Op 20 Januarie 2021 is hy deur die Demokraat Joe Biden opgevolg, wat hom in die Amerikaanse presidentsverkiesing 2020 verslaan het. Op 70 jaar was Trump die oudste en welvarendste persoonlikheid wat ooit die amp van president van die VSA beklee het, asook die eerste sonder enige voorafgaande militêre of politieke loopbaan en die vyfde wat op nasionale vlak geen meerderheid van die uitgebragte stemme op hom verenig het nie. Trump is ook ’n belegger, skrywer en TV-persoonlikheid. In 1971 het hy die voorsitter van die eiendomsgroep geword wat in besit van sy familie is en dit hernoem tot The Trump Organization. Hy het die onderneming vervolgens uitgebrei om die bou en renovasie van wolkekrabbers, hotelle, kasinos en gholfbane in te sluit. Die onderneming Trump Entertainment Resorts is deur hom gestig. Hy het in Junie 2015 sy kandidatuur vir die Amerikaanse presidentskap van November 2016 aangekondig en is op 19 Julie 2016 deur die Republikeinse Party amptelik as die party se presidentskandidaat benoem.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search